Feeds:
Bydraes
Kommentaar

PhuketDie foto’s is deel van die heelmaakproses, besef sy toe sy die volgende dag oor die ongeskonde wit strand voor hul hotel loop. Alles lyk nuut en vars, asof die trauma nooit die plek getref het nie. En hier waar alles ongeskonde lyk, voel sy Deon baie duidelik en sien sy hom selfs ’n keer of wat op ’n afstand: in die bruingebrande skouers van ’n jong man wat op die strand sit, in ’n ander se omdraai en wuif, in die ontspanne swaaistap van nog ’n ander.

Tog bring dit nie die snydende hartseer wat sy verwag het nie. Soos die foto’s, bring dit wel heimwee oor dit wat mooi was en gebreek het, saam met die wete dat dit vir altyd verby is.

Asof die besef ’n ander soort helderheid bring, begin sy tog tekens van die ramp raaksien terwyl sy van die strand af stap tot in die tuine wat die hotel omring. Vyf jaar was nie genoeg om die voorheen welige plantegroei heeltemal te herstel nie. Enige nuwe gas sal dit nie eens opmerk nie maar omdat sy daarna oplet, sien sy dit tog raak.

Teen die buitemuur van die hotel is die hoogwatermerk aangebring, ’n reguit swart streep, die jaartal en Tsunami, 26 December in netjiese letters daaronder. Net so ’n swart streep is deur Deon se lewe getrek, dink sy onwillekeurig. Deur Deon en soveel ander mense se lewe, korrigeer sy haarself.

Byna deur hare ook, as dit nie was vir Ettienne nie.

In die hotel se foyer ontdek sy ’n spesiale gedenkhoekie wat solank vir die vyfde herdenking van die ramp ingerig is. Die eenvoud en opregtheid van die hoekie laat trane oomblikke lank in Isa se oë brand voor sy die knop in haar keel afgesluk kry en verder lees.

Dis tog nie ’n uitstalling sonder hoop nie, merk sy nou. Daar is foto’s van die heropbou, getikte vertellings deur werknemers wat geliefdes ná dae teruggevind het en altyddeur iemand wat herinner: Dit mag nooit weer gebeur nie.

Ook toe sy ’n dag later die strate te voet invaar, kry sy oral die duidelike boodskap dat die pynlike les goed geleer is. Daar is kennisgewings wat verduidelik hoe die waarskuwingstelsel en ontsnappingsroetes werk in geval van ’n tsoenami, padtekens met tsoenamisimbole en pyle wat die roetes na hoër grond aanwys. Asof gehipnotiseer loop sy die pad wat aangedui word, weg van die kus af, hoër en altyd hoër, verby woonhuise, teen hoogtetjies op, tot by grasbulte. Tot waar die tipies Westerse woonbuurte en vakansiehuise vervang word deur die eenvoudiger huise van plaaslike inwoners. Niks daarvan lyk vir haar bekend nie, miskien omdat die plantegroei nou mals groen is, nie gestroop en toegeslik of bemodder nie.

Die gedagte is skaars koud of sy sien verder voor haar ’n breë rug waaroor ’n ligte T-hemp effens span. Haar hart skop bly en sy drafstap nader maar voor sy binne roepafstand is, besef sy dis nie Ettienne nie. ’n Plaaslike visserman op pad huis toe. Teleurgesteld draai sy om en slenter terug hotel toe.

Maar hoe verder sy loop, hoe meer kere sien sy die groot man, al is daar niemand voor haar in die pad nie. Terugflitse, besef sy. Die breë skouers in die ligte T-hemp met die kruis op wat voor haar loop. Medic. Reddingstou vir die reddeloses en radeloses, geknaktes en beseerdes. Ook vir haar.

Nog steeds vir haar.

Seldsame man se reis

Ek loer vandag om te sien hoe lyk die topverkopers op Amazon en tot my verbasing het Seldsame Man op die top twintig beland. Lyk my die kêrel is ‘n waardige held.seldsame-manvoorblad

As die man net nie so pynlik ordentlik was nie, sou hy hom met gemak uit Donnie se oënskynlik barmhartige uitnodiging kon wriemel. En hoe kan sy Donnie se ruimhartigheid weier sonder om na ’n opperste fariseër te klink? Sy het pas self gewens sy het haar hand na Ettienne uitgestrek toe hy iemand nodig gehad het. En as sy hom dalk ’n verskoning verskuldig is …

seldsame-manvoorbladDonnie se oë smeek en toe Isa opkyk na Ettienne, is hy ooglopend verleë.

“Baie dankie, Donnie, maar ek kan ongelukkig nie langer bly nie. Miskien kan ons ’n ander keer weer die eekhorinkies kom voer?” Hy kyk vraend op na Isa van waar hy by Donnie gehurk het. “Ek is regtig jammer ek kan nie die uitnodiging aanvaar nie.” Continue Reading »

VERRASSENDE VROUE

Ek het die afgelope paar maande die voorreg gehad om ‘n besonderse groep vroue te ontmoet en ‘n rukkie saam met hulle te kuier. Dit het gebeur toe ‘n paar VLU-takke van Mpumalanga my genooi het om op hul onderskeie takvergaderings met hulle lede te gesels oor my skryfwerk.  Continue Reading »

seldsame-manvoorblad“Ek is seker Suster du Plessis is alles wat jy sê sy is, matrone, en waarskynlik meer.” Hy praat hierdie keer Afrikaans sodat matrone verras vir hom kyk. Die ligte Britse aksent wat Isa in Thailand gehoor het, is nog dieselfde, ook sy perfek-suiwer taalgebruik wat ietwat formeel op die oor val. “Ons sal goed saamwerk.” Die kleur is terug in sy gesig asof hy hom byna verspreek het. Asof hy wou sê hulle het goed saamgewerk.

Want hulle hét goed saamgewerk, daardie paar dae na die tsunami, dit besef sy skielik asof sy alles onthou. Hy is ’n natuurlike leier. ’n Raakvatter. Intuïtief. Kan uit niks iets bruikbaars improviseer, iets wat ander se nood kan verlig. Sy het dit gesien. Sy vryf ingedagte oor die litteken aan haar bo-been. Sy hande werk sag en simpatiek, maar effektief. Sy het dit immers aan haar lyf beleef.

Maar sy het ook beleef hoe genadeloos en onsimpatiek hy is wanneer dinge nie verloop soos hy dit wil hê nie, daardie feit onthou sy baie goed. Continue Reading »

Seldsame Man

Uiteindelik is ‘n Seldsame Man danksy LAPA op die rak. Baie dankie aan almal wat aan die storie help skaaf en regruk het en ‘n spesiale dankie aan die kunstenaar wat die pragtige omslag ontwerp het. Sodra ek kans kry sal ek ‘n foto plaas en ‘n proestukkie.

Ingeval ons vergeet

Kersfees is ‘n wonderlike gesinsfees met ‘n kersverhaal wat ouers maklik aan hul kleuters kan oordra. Gesinne gaan saam kerk toe, al is dit die enigste dag in die jaar dat hulle dit doen! Jesus se geboorte is ‘n ‘mooi’ storie, want die meeste mense verkies om te vergeet van Herodus se kinderslagting en die vlug na Egipte. Verkies om te vergeet dat Christus se geboorte ook die begin was van sy lyding.

Christus se Lydensgeskiedenis is nie ‘n ‘lekker’ verhaal om aan kinders oor te dra nie, daarom doen ouers dit eerder nie. Dis ‘n geskiedenis wat selfs vir die meeste volwassenes ‘n minder aangename herinnering is. Hulle word eerder deel van die wêreld wat glo Paasnaweek is ‘n lekker langnaweek, die ideale wegbreekkans voor die winter.

Maar as ons die sin van Paasfees eerder wil vergeet, vergeet ons dat dit Christus se lyding en opstanding is wat vir ons die hemel oopgemaak het. En dis iets wat ons nooit mag vergeet nie. Laat ons dan vandag die Paasfeesklokke lui en saam met die eerste Christene sê: Die Heer het opgestaan! Die Heer het waarlik opgestaan! Laat ons ook elke Sondag vir die res van die jaar onthou dat Hy op die derde dag, die Sondag opgestaan het. Mag ons elke dag leef asof ons in die opgestane Heer glo en sy Lig uitdra tot ons sy lyding weer volgende jaar gedurende Paasfees herdenk.

Geseënde Paasfees aan julle almal.